Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 22:1-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het die kinders van Israel weggetrek en laer opgeslaan in die vlaktes van Moab, oos van die Jordaan van Jérigo.

2. Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het,

3. het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel.

4. Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ’n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab.

5. Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my.

6. Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ’n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.

7. Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel.

8. Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die Here aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly.

9. En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou?

10. En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet:

11. Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe.

12. Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd.

13. Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na julle land, want die Here het geweier om my saam met julle te laat gaan.

14. En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan.

15. Daarop stuur Balak nog weer vorste wat meer en aansienliker was as die ander;

Lees volledige hoofstuk Númeri 22