Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 18:6-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. Want Ek self het julle broers, die Leviete, onder die kinders van Israel uit geneem as ’n geskenk vir julle, mense wat aan die Here gegee is om die dienswerk van die tent van samekoms te verrig.

7. Maar jy en jou seuns saam met jou moet julle priesteramp waarneem met betrekking tot al die sake van die altaar en van wat binnekant die voorhangsel is, en julle moet daar diens verrig. As ’n dienswerk wat geskenk word, gee Ek julle die priesteramp; en die onbevoegde wat naby kom, moet gedood word.

8. Verder het die Here met Aäron gespreek: Ek self het jou die diens van my offergawes gegee; wat betref al die heilige gawes van die kinders van Israel, aan jou gee Ek dit as aandeel en aan jou seuns as ewige insetting.

9. Van die hoogheilige gawes, met uitsondering van wat verbrand word, moet dít joue wees: al hulle offers, naamlik elke spysoffer en elke sondoffer en elke skuldoffer van hulle, wat hulle My bring — as iets hoogheiligs moet dit vir jou en jou seuns wees.

10. In ’n hoogheilige plek moet jy dit eet; almal wat manlik is, mag dit eet; heilig moet dit vir jou wees.

11. Dit moet ook joue wees: die offergawe van hulle geskenke, van al die beweegoffers van die kinders van Israel; Ek gee dit aan jou en jou seuns en jou dogters saam met jou as ’n ewige insetting. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.

12. Al die beste van die olie en al die beste van die mos en die koring, die eerste daarvan wat hulle aan die Here gee, dit gee Ek aan jou.

13. Die eerstelinge van alles wat in hulle land is, wat hulle aan die Here bring, moet joue wees. Elkeen wat rein is in jou huis, mag dit eet.

14. Alles wat onder die ban is in Israel, moet joue wees.

15. Alles wat die moederskoot open — alle vlees wat hulle vir die Here aanbring, mense en diere — moet joue wees; maar die eersgeborenes van mense moet jy sekerlik loskoop; ook moet jy die eersgeborenes van onrein diere loskoop.

16. En wat die loskoping daarvan aangaan: vanaf ’n maand oud moet jy loskoop, volgens jou skatting, vir ’n geldsom van vyf sikkels volgens die sikkel van die heiligdom; dit is twintig gera.

17. Maar die eersgeborene van ’n bees of die eersgeborene van ’n skaap of die eersgeborene van ’n bok moet jy nie loskoop nie; heilig is hulle; hulle bloed moet jy uitgooi teen die altaar en hulle vet aan die brand steek as ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here.

Lees volledige hoofstuk Númeri 18