Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 16:36-48 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

36. En die Here het met Moses gespreek en gesê:

37. Sê aan Eleásar, die seun van die priester Aäron, dat hy die vuurpanne uit die brand moet wegneem en die vuur ver weg moet strooi; want hulle is heilig —

38. naamlik die vuurpanne van die wat gesondig het ten koste van hulle lewe; en daarvan moet dun plate geslaan word as ’n oortreksel vir die altaar. Want hulle het dié voor die aangesig van die Here gebring — daarom is hulle heilig; en hulle sal vir die kinders van Israel ’n teken wees.

39. Toe het die priester Eleásar die kopervuurpanne geneem wat die mense wat verbrand is, gebring het, en hulle het dit plat geslaan as ’n oortreksel vir die altaar —

40. ’n aandenking vir die kinders van Israel, sodat ’n onbevoegde wat nie uit die nageslag van Aäron is nie, nie sal nader kom om reukwerk voor die aangesig van die Here aan die brand te steek nie; sodat hy nie word soos Korag en sy bende nie, soos die Here aan hom deur die diens van Moses gesê het.

41. Maar die volgende dag het die hele vergadering van die kinders van Israel teen Moses en Aäron gemurmureer en gesê: Júlle het die volk van die Here gedood.

42. En terwyl die vergadering teen Moses en Aäron bymekaarkom, het hulle hul na die tent van samekoms gedraai, en meteens het die wolk dit oordek en die heerlikheid van die Here het verskyn.

43. En toe Moses en Aäron tot voor die tent van samekoms kom,

44. het die Here met Moses gespreek en gesê:

45. Trek julle terug uit hierdie vergadering, dat Ek hulle in ’n oomblik kan verteer. Toe val hulle op hul aangesig,

46. en Moses sê vir Aäron: Neem die vuurpan en gooi vuur van die altaar daarin en lê reukwerk daarop, en bring dit gou na die vergadering en doen versoening vir hulle; want die toorn het van die Here se aangesig uitgegaan, die plaag het begin!

47. Toe neem Aäron dit soos Moses gespreek het en hardloop onder die vergadering in, en kyk, die plaag het al onder die volk begin! En hy het die reukwerk daarop gelê en versoening gedoen vir die volk.

48. En terwyl hy tussen die dooies en die lewendes staan, het die plaag opgehou.

Lees volledige hoofstuk Númeri 16