Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 15:9-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. moet hy by die jong bul as spysoffer bring drie-tiendes van ’n efa fynmeel met ’n half-hin olie gemeng.

10. En vir die drankoffer moet jy ’n half-hin wyn bring, as vuuroffer van lieflike geur aan die Here.

11. So moet gedoen word by elke bees of by elke ram of by ’n lam van die skape of van die bokke.

12. Volgens die getal wat julle berei — so moet julle doen by elkeen volgens hulle getal.

13. Elke kind van die land moet hierdie dinge op dieselfde manier doen, om ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here te bring.

14. En as ’n vreemdeling by julle vertoef, of hy wat vir geslagte onder julle is, en ’n vuuroffer van lieflike geur vir die Here berei — soos julle doen, so moet hy doen.

15. Wat die vergadering aangaan, een en dieselfde insetting geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef. ’n Ewige insetting in julle geslagte is dit: soos julle, so moet die vreemdeling voor die aangesig van die Here wees.

16. Een wet en een reg moet geld vir julle en vir die vreemdeling wat by julle vertoef.

17. Verder het die Here met Moses gespreek en gesê:

18. Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land kom waarheen Ek julle bring,

19. moet julle, as julle van die brood van die land eet, ’n offergawe aan die Here afgee.

20. As eersteling van julle growwe meel moet julle ’n koek as offergawe afgee; net soos die offergawe van die dorsvloer, so moet julle dit afgee.

21. Van die eerstelinge van julle growwe meel moet julle ’n offergawe aan die Here gee in julle geslagte.

Lees volledige hoofstuk Númeri 15