Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 15:25-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. En die priester moet versoening doen vir die hele vergadering van die kinders van Israel, en dit sal hulle vergewe word; want ’n swakheid was dit, en húlle het hul offer as vuuroffer aan die Here en hul sondoffer, weens hulle swakheid, voor die aangesig van die Here gebring.

26. Dit sal dan die hele vergadering van die kinders van Israel vergewe word, ook die vreemdeling wat onder hulle vertoef; want dit het die hele volk deur swakheid oorgekom.

27. En as ’n enkele siel in swakheid sondig, moet dié ’n jaaroud bokooi as sondoffer bring.

28. En die priester moet versoening doen vir die siel wat hom misgaan het, weens sy sonde in swakheid voor die aangesig van die Here begaan, om vir hom versoening te doen; en dit sal hom vergewe word.

29. Wat die kind van die land onder die kinders van Israel aangaan en die vreemdeling wat onder hulle vertoef — een en dieselfde wet moet vir julle geld, vir hom wat in swakheid iets doen.

30. Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die Here; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit.

31. Want die woord van die Here het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.

32. EN toe die kinders van Israel in die woestyn was, het hulle ’n man gekry wat op die sabbatdag hout bymekaarmaak.

Lees volledige hoofstuk Númeri 15