Ou Testament

Nuwe Testament

Númeri 11:5-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en die prei en die uie en die knoffel.

6. Maar nou is ons siel dor; daar’s glad niks nie: net die manna is voor ons oë.

7. Die manna was soos koljandersaad, en dit het gelyk na balsemgom.

8. Die volk het rondgeloop en dit versamel en in handmeule gemaal of in vysels gestamp, en hulle het dit in potte gekook en daarvan roosterkoeke gemaak. En die smaak daarvan was soos die smaak van oliekoeke.

9. En as die dou snags op die laer val, het die manna ook daarop geval.

10. Toe het Moses die volk, volgens hulle geslagte, elkeen by die deur van sy tent hoor ween; en die toorn van die Here het grootliks ontvlam; ook was dit verkeerd in die oë van Moses.

11. En Moses sê aan die Here: Waarom het U u kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen genade in u oë gevind nie, dat U die las van hierdie hele volk op my lê?

12. Het ék hierdie hele volk dan ontvang? Of het ék hulle gebaar, dat U vir my sê: Dra hulle aan jou bors soos ’n oppasser die suigling dra, na die land wat U aan hulle vaders met ’n eed beloof het?

13. Waarvandaan moet ek vleis kry om aan al hierdie volk te gee? Want hulle ween by my en sê: Gee vir ons vleis, dat ons kan eet.

14. Ek alleen kan hierdie hele volk nie dra nie, want dit is vir my te swaar.

15. En as U so met my wil handel, slaan my dan maar liewer dood as ek genade in u oë gevind het, en laat ek my ongeluk nie aansien nie.

16. Toe sê die Here aan Moses: Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Israel bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en sy opsigters is, en bring hulle by die tent van samekoms, dat hulle daar by jou kan staan.

Lees volledige hoofstuk Númeri 11