Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 9:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN op die vier-en-twintigste dag van hierdie maand het die kinders van Israel vergader en gevas in rouklere en met grond op hulle hoof.

2. En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders.

3. En hulle het van hulle plek opgestaan, en gedurende ’n vierde deel van die dag gelees uit die wetboek van die Here hulle God, en gedurende ’n vierde deel belydenis gedoen en die Here hulle God aanbid.

4. En op die verhoog van die Leviete het Jésua en Bani, Kádmiël, Sebánja, Bunni, Serébja, Bani, Kenáni opgestaan en met ’n groot stem die Here hulle God aangeroep.

5. En die Leviete Jésua en Kádmiël, Bani, Hasábneja, Serébja, Hodía, Sebánja, Petágja het gesê: Staan op, loof die Here julle God van ewigheid tot in ewigheid! En laat hulle u heerlike Naam loof wat bo alle lof en prys verhewe is!

6. U is alleen die Here, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.

7. U is die Here, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham gemaak het.

8. En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.

9. En U het die ellende van ons vaders in Egipte aangesien en hulle geroep by die Skelfsee gehoor,

10. en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U ’n Naam gemaak soos dit vandag is.

Lees volledige hoofstuk Nehemía 9