Ou Testament

Nuwe Testament

Nehemía 5:7-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. En ek het by myself beraadslaag en met die edeles en die leiers getwis en aan hulle gesê: Julle leen uit op woeker, elkeen aan sy broer! En ek het ’n groot vergadering teen hulle belê

8. en aan hulle gesê: Óns het ons Joodse broers wat aan die heidene verkoop was, na ons vermoë losgekoop; en tog verkoop júlle jul broers, sodat hulle hul aan ons moet verkoop. En hulle het geswyg en geen antwoord gevind nie.

9. Verder het ek gesê: Dit is nie goed wat julle doen nie. Moet julle nie in die vrees van onse God wandel ter wille van die smaad van die heidene, ons vyande, nie?

10. Ek self, my broers en my mense het ook aan hulle geld en koring geleen; laat ons tog hierdie lening kwytskeld.

11. Gee dan vandag nog hulle lande, hulle wingerde, hulle olyfbome en hulle huise aan hulle terug, en die honderdste deel van die geld en die koring, die mos en die olie wat julle aan hulle geleen het.

12. Daarop sê hulle: Ons sal dit teruggee en niks van hulle vorder nie; ons sal net so handel soos u gesê het. En ek het die priesters geroep en hulle laat sweer om volgens hierdie woord te handel.

13. Ook het ek my boesem uitgeskud en gesê: Mag God so elke man uitskud wat hierdie woord nie bevestig nie, uit sy huis en uit sy besitting; en mag hy so uitgeskud en leeg wees! Toe sê die hele vergadering: Amen! en hulle het die Here geprys. En die volk het volgens hierdie woord gehandel.

14. Ook van die dag af dat ek aangestel is om hulle goewerneur te wees in die land Juda, van die twintigste jaar af tot die twee-en-dertigste jaar van koning Artasásta, twaalf jaar lank, het ek en my broers die brood van goewerneurs nie geëet nie;

15. terwyl die vorige goewerneurs wat voor my was, die volk swaar belas het en van hulle brood en wyn geneem het, daarna veertig sikkels silwer. Hulle mense het ook heerskappy gevoer oor die volk; maar so het ek uit vrees vir God nie gedoen nie.

16. En ook by die werk aan hierdie muur het ek volhard sonder dat ons grond aangeskaf het, terwyl tog al my mense daar by die werk versamel was.

Lees volledige hoofstuk Nehemía 5