Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 22:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

2. Spreek met Aäron en sy seuns dat hulle versigtig moet wees met die heilige gawes van die kinders van Israel — wat hulle aan My heilig — sodat hulle my heilige Naam nie ontheilig nie. Ek is die Here.

3. Sê vir hulle: Enigeen in julle geslagte wat uit al julle nakomelinge na die heilige gawes aankom wat die kinders van Israel aan die Here heilig, terwyl sy onreinheid op hom is, dié siel moet uitgeroei word van my aangesig af weg. Ek is die Here.

4. Niemand uit die nageslag van Aäron wat melaats is of ’n vloeiing het, mag van die heilige gawes eet voordat hy rein is nie. En hy wat aan iemand raak wat deur ’n lyk onrein is, of van wie ’n saadvloeiing uitgaan,

5. of iemand wat aan enige kruipende ongedierte raak, waardeur hy onrein word, of aan ’n mens, deur wie hy onrein word ten gevolge van watter onreinheid ook al —

6. die persoon wat aan so iets raak, sal tot die aand toe onrein wees, en hy mag van die heilige gawes nie eet nie tensy dat hy sy liggaam in die water gebad het.

7. Maar as die son onder is, sal hy rein wees; en daarna kan hy van die heilige gawes eet, want dit is sy voedsel.

8. Aas of iets wat verskeur is, mag hy nie eet, sodat hy daardeur nie onrein word nie. Ek is die Here.

9. Hulle moet dan my ordening onderhou, dat hulle weens die heilige gawes geen sonde op hulle laai en daardeur sterwe nie, omdat hulle dit ontheilig het. Ek is die Here wat hulle heilig.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 22