Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 20:12-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En as ’n man met sy skoondogter gemeenskap het, moet hulle altwee sekerlik gedood word. Hulle het ’n gruwelike vermenging bewerk. Hulle bloedskuld is op hulle.

13. En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.

14. En as ’n man ’n vrou en haar moeder neem, is dit ’n skandelike daad; hulle moet hom en dié twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.

15. En as ’n man vleeslike gemeenskap het met ’n dier, moet hy sekerlik gedood word, en die dier moet julle doodslaan.

16. En as ’n vrou naby enige dier kom om daarmee te doen te hê, moet jy die vrou en die dier doodslaan. Hulle moet sekerlik gedood word. Hulle bloedskuld is op hulle.

17. En as ’n man sy suster neem, sy vader se dogter of sy moeder se dogter, en hy haar skaamte sien en sy sy skaamte sien, is dit ’n skande. Daarom moet hulle voor die oë van die kinders van hulle volk uitgeroei word. Hy het die skaamte van sy suster ontbloot; hy moet sy ongeregtigheid dra.

18. En as ’n man met ’n vrou gemeenskap het wat onwel is, en haar skaamte ontbloot — hy het haar fontein ontbloot en sý die fontein van haar bloed — dan moet hulle altwee uitgeroei word onder hulle volk uit.

19. Ook mag jy die skaamte van jou moeder se suster en van jou vader se suster nie ontbloot nie, want hy het sy bloedverwante ontbloot; hulle moet hul ongeregtigheid dra.

20. En as ’n man met sy tante gemeenskap het, het hy die skaamte van sy oom ontbloot. Hulle moet hul sonde dra; sonder kinders sal hulle sterwe.

21. En as ’n man sy broer se vrou neem, is dit bloedskande. Hy het die skaamte van sy broer ontbloot; sonder kinders sal hulle wees.

22. Onderhou dan al my insettinge en al my verordeninge en doen dit, dat die land waarheen Ek julle bring om daarin te woon, julle nie uitspuug nie.

23. En julle mag nie wandel in die insettinge van die nasie wat Ek voor julle uit verdrywe nie; want al hierdie dinge het hulle gedoen; daarom het Ek ’n afsku van hulle gekry.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 20