Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 19:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

2. Spreek met die hele vergadering van die kinders van Israel en sê vir hulle: Heilig moet julle wees, want Ek, die Here julle God, is heilig.

3. Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees, en my sabbatte hou. Ek is die Here julle God.

4. Begeef julle nie tot die afgode en maak vir julle geen gegote gode nie. Ek is die Here julle God.

5. En as julle ’n dankoffer aan die Here slag, moet julle dit so offer, dat julle welgevalle kan vind.

6. Op die dag as julle dit offer en die dag daarna, moet dit geëet word; maar wat tot die derde dag toe oorbly, moet met vuur verbrand word.

7. En as dit tog op die derde dag geëet word, sal dit ’n onrein ding wees; dit sal nie met welgevalle aangeneem word nie.

8. En hy wat dit eet, moet sy ongeregtigheid dra, want wat heilig is aan die Here, het hy ontheilig. Daarom moet dié siel uit sy volksgenote uitgeroei word.

9. En as julle die opbrings van julle land oes, moet jy die kant van jou land nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie.

10. Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die Here julle God.

11. Julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie.

12. En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die Here.

13. Jy mag jou naaste nie verdruk of beroof nie. Die dagloner se loon mag by jou nie tot die môre toe bly nie.

14. Jy mag ’n dowe nie vloek nie, en voor die blinde geen struikelblok lê nie; maar jy moet jou God vrees. Ek is die Here.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 19