Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 17:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het die Here met Moses gespreek en gesê:

2. Spreek met Aäron en sy seuns en met al die kinders van Israel en sê vir hulle: Dit is die saak wat die Here beveel het:

3. Elkeen uit die huis van Israel wat ’n bees of ’n lam of ’n bok in die laer slag of dit buitekant die laer slag,

4. en dit nie bring by die ingang van die tent van samekoms om aan die Here ’n offer voor die tabernakel van die Here te bring nie — as bloedskuld moet dit dié man aangereken word. Hy het bloed vergiet; daarom moet dié man uitgeroei word onder sy volk uit;

5. sodat die kinders van Israel hulle slagoffers wat hulle gewoon was om op die oop veld te offer, aan die Here by die ingang van die tent van samekoms na die priester kan bring en dit as dankoffers aan die Here kan slag.

6. Dan moet die priester die bloed teen die altaar van die Here by die ingang van die tent van samekoms uitgooi en die vet aan die brand steek as lieflike geur vir die Here.

7. En hulle mag nie meer hulle slagoffers offer aan die veldduiwels agter wie hulle aan hoereer nie. Dit moet vir hulle ’n ewige insetting wees vir hulle geslagte.

8. En jy moet vir hulle sê: Elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat ’n brandoffer of ’n slagoffer bring,

9. en dit nie by die ingang van die tent van samekoms bring om dit vir die Here te berei nie — dié man moet uit sy volksgenote uitgeroei word.

10. EN elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet — teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit.

11. Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.

12. Daarom het Ek aan die kinders van Israel gesê: Niemand van julle mag bloed eet nie; ook die vreemdeling wat onder julle vertoef, mag geen bloed eet nie.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 17