Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 16:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN die Here het met Moses gespreek ná die dood van die twee seuns van Aäron, wat gesterf het toe hulle voor die aangesig van die Here nader gekom het;

2. en die Here het aan Moses gesê: Spreek met jou broer Aäron dat hy nie te eniger tyd moet ingaan in die heiligdom nie, binnekant die voorhangsel, voor die versoendeksel wat op die ark is, sodat hy nie sterwe nie; want Ek verskyn in die wolk op die versoendeksel.

3. Hiermee moet Aäron in die heiligdom ingaan: met ’n jong bul as sondoffer en ’n ram as brandoffer.

4. Hy moet ’n heilige linnerok aantrek en ’n linnebroek moet oor sy vlees wees en met ’n linnegordel moet hy hom gord en ’n linnetulband moet op sy hoof wees. Dit is heilige klere; en hy moet sy liggaam in die water bad en dit aantrek.

5. En van die vergadering van die kinders van Israel moet hy twee bokramme as sondoffer en een ram as brandoffer neem.

6. Dan moet Aäron die sondofferbul wat vir hom bedoel is, aanbring en vir hom en sy huis versoening doen.

7. Hy moet ook die twee bokke neem en hulle voor die aangesig van die Here stel by die ingang van die tent van samekoms.

8. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel.

9. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei;

10. maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.

11. Aäron moet dan die sondofferbul wat vir hom bedoel is, laat aankom en vir hom en sy huis versoening doen: hy moet die sondofferbul slag wat vir hom bedoel is,

12. en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die Here wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 16