Ou Testament

Nuwe Testament

Levítikus 13:41-54 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

41. En as sy hoof aan die voorkant kaal word, het hy ’n bles; hy is rein.

42. Maar as daar in die kaalte of in die bles ’n rooierige wit plek is, dan is dit melaatsheid wat uitbreek in die kaalte of in die bles.

43. As die priester dit bekyk en sien dat die swelsel van die aangetaste plek in die kaalte of in die bles rooierig wit is, wat lyk soos die melaatsheid van die vel van die vlees,

44. dan is hy ’n melaatse, hy is onrein; die priester moet hom sekerlik onrein verklaar; op sy hoof het hy die plaag.

45. Verder moet in die klere van die melaatse op wie die plaag is, skeure wees, en sy hare moet los hang; ook moet hy sy baard bedek en roep: Onrein, onrein!

46. Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. Onrein is hy; alleen moet hy woon; buitekant die laer moet sy woning wees.

47. Verder, as daar in ’n kledingstuk die plaag van melaatsheid is, in ’n kledingstuk van wol of linne;

48. of in die skeerdraad of die inslag van linne of wol, of in ’n vel of enige leerwerk;

49. en die aangetaste plek in die kledingstuk of in die vel of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp liggroen of rooierig is, dan is dit ’n plaag van melaatsheid, en hulle moet die priester dit laat sien.

50. Die priester moet dan die aangetaste plek bekyk en die aangetaste voorwerp sewe dae lank opsluit.

51. Dan moet hy op die sewende dag die plek bekyk; as die plaag versprei het in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in die vel, vir watter diens die vel ook al verwerk is, dan is die plaag ’n kwaadaardige melaatsheid; so iets is onrein.

52. Daarom moet hy die kledingstuk of die skeerdraad of die inslag van wol of van linne of enige leervoorwerp waarin die aangetaste plek is, verbrand; want dit is ’n kwaadaardige melaatsheid. Dit moet met vuur verbrand word.

53. Maar as die priester sien dat die plek in die kledingstuk of in die skeerdraad of die inslag of in enige leervoorwerp nie versprei het nie,

54. dan moet die priester beveel dat hulle die voorwerp was waar die plek aan is; en hy moet dit nog ’n keer sewe dae lank opsluit.

Lees volledige hoofstuk Levítikus 13