Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 1:2-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Bet. Bitterlik ween sy snags — haar trane oor haar wange! Sy het geen trooster onder al haar liefhebbers nie; al haar vriende het troueloos teen haar gehandel, haar vyande geword.

3. Gimel. Juda is ontvolk deur ellende en deur sware diensbaarheid; hy sit onder die nasies, sonder om ’n rusplek te vind; al sy vervolgers het hom ingehaal tussen die engtes in.

4. Dalet. Die weë na Sion treur, omdat daar geen feesgangers is nie; al haar poorte lê woes, haar priesters sug, haar jonkvroue is bedroef, en sy self het dit bitter.

5. He. Haar teëstanders het die oorhand gekry, haar vyande lewe rustig; want die Here het haar droefheid aangedoen vanweë die menigte van haar oortredinge; haar kinders het in gevangenskap gegaan voor die teëstander uit.

6. Wau. En van die dogter van Sion het gewyk al haar heerlikheid; haar vorste het geword soos takbokke wat geen weiveld vind nie en kragteloos heengegaan het voor die vervolger uit.

7. Sajin. Jerusalem dink, in die dae van haar ellende en haar omswerwinge, aan al haar kosbaarhede wat gewees het van die dae van die voortyd af. Toe haar volk deur die hand van die teëstander geval het en daar vir haar geen helper was nie, het die teëstanders haar aanskou, hulle het gelag oor haar ongelukkige uiteinde.

8. Get. Jerusalem het swaar gesondig, daarom het sy ’n voorwerp van afsku geword; almal wat haar geëer het, verag haar, omdat hulle haar naaktheid gesien het; sy self sug en het haar weggedraai.

9. Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy ’n trooster het. Sien my ellende aan, Here, want die vyand hou hom groot.

10. Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie.

11. Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, Here, en merk op dat ek ’n veragte geword het.

12. Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar ’n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die Here my bedroef het op die dag van sy toorngloed.

13. Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het ’n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.

14. Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.

15. Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ’n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.

Lees volledige hoofstuk Klaagliedere 1