Ou Testament

Nuwe Testament

Klaagliedere 1:15-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ’n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.

16. Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het.

17. Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die Here het die wat rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde ’n voorwerp van afsku geword.

18. Sade. Regverdig is Hy, die Here, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan.

19. Kof. Ek het geroep na my liefhebbers — hulle het my in die steek gelaat; my priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle gesoek het om hulleself te verkwik.

20. Resj. Aanskou, Here, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes.

21. Sjin. Hulle hoor dat ek sug, ek het geen trooster nie; al my vyande hoor van my onheil, hulle is bly dat U dit gedoen het. U laat die dag kom wat U uitgeroep het, dat hulle kan wees soos ek,

22. Tau. dat al hulle boosheid voor u aangesig kom; en doen aan hulle soos U aan my gedoen het vanweë al my oortredinge, want my versugtinge is baie, en my hart is krank.

Lees volledige hoofstuk Klaagliedere 1