Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:9-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En hulle sê vir hom: U dienaars kom van ’n baie ver land af, vanweë die Naam van die Here u God; want ons het die gerug van Hom gehoor, en alles wat Hy in Egipte gedoen het;

10. en alles wat Hy aan die twee konings van die Amoriete oorkant die Jordaan gedoen het, aan Sihon, die koning van Hesbon, en Og, die koning van Basan, wat in Ástarot was.

11. Daarom het ons oudstes en al die inwoners van ons land met ons gespreek en gesê: Neem padkos met julle saam vir die reis en trek hulle tegemoet en sê aan hulle: Ons is julle dienaars, sluit dan nou ’n verbond met ons.

12. Ons brood hier — warm het ons dit as padkos uit ons huise geneem, die dag toe ons uitgetrek het om na julle te gaan — kyk maar, nou het dit droog en verkrummeld geword.

13. En die wynsakke hier wat ons as nuwes volgemaak het — kyk maar, hulle is geskeur; en ons klere hier en ons skoene — hulle is verslyt deur die baie lang reis.

14. Toe neem die manne van hulle padkos; maar die mond van die Here het hulle nie geraadpleeg nie.

15. En Josua het met hulle vrede gemaak en met hulle ’n verbond gesluit, dat hy hulle sou laat lewe; en die owerstes van die vergadering het hulle dit met ’n eed beloof.

16. Maar aan die einde van drie dae, nadat die verbond met hulle gesluit was, hoor die volk dat hulle in hul nabyheid en tussen hulle in woon.

17. Die kinders van Israel het naamlik weggetrek en op die derde dag by hulle stede gekom; en hulle stede was: Gíbeon en Kefíra en Béërot en Kirjat-Jeárim.

18. Maar die kinders van Israel het hulle nie verslaan nie, omdat die owerstes van die vergadering vir hulle gesweer het by die Here, die God van Israel; die hele vergadering het toe teen die owerstes gemurmureer.

19. Daarop sê al die owerstes aan die hele vergadering: Ons het self vir hulle gesweer by die Here, die God van Israel; en nou mag ons hulle nie aanraak nie.

20. Dit sal ons aan hulle doen en hulle laat lewe, sodat daar nie toorn oor ons kom ter wille van die eed wat ons vir hulle gesweer het nie.

21. Verder sê die owerstes vir hulle: Laat hulle lewe! En hulle het houtkappers en waterputters geword van die hele vergadering, soos die owerstes aan hulle gesê het.

22. Toe laat Josua hulle roep en spreek met hulle en sê: Waarom het julle ons bedrieg deur te sê: Ons woon baie ver van julle af — terwyl julle tussen ons in woon?

23. Nou dan, vervloek is julle! En nooit sal julle ophou om knegte, houtkappers sowel as waterputters, vir die huis van my God te wees nie.

Lees volledige hoofstuk Josua 9