Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 7:15-26 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

15. En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die Here oortree en ’n skanddaad in Israel begaan het.

16. En Josua het vroeg in die môre klaargemaak en Israel laat aankom volgens sy stamme; en die stam van Juda is aangewys.

17. Toe hy die geslagte van Juda laat aankom, het die lot die geslag van die Sargiete aangewys; toe hy die geslag van die Sargiete laat aankom man vir man, is Sabdi aangewys;

18. toe hy sy huisgesin man vir man laat aankom, is Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, aangewys.

19. Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die Here, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie.

20. Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die Here, die God van Israel, en so en so het ek gedoen.

21. Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en tweehonderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder.

22. Toe Josua dan boodskappers stuur en hulle na die tent loop, lê dit daar begrawe in sy tent, en die silwer daaronder.

23. En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua en al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die Here uitgeskud.

24. Daarop het Josua en die hele Israel met hom saam Agan, die seun van Serag, geneem met die silwer en die mantel en die goudstaaf en sy seuns en sy dogters en sy beeste en sy esels en sy kleinvee en sy tent en alles wat aan hom behoort het, en hulle het hul na die dal Agor gebring.

25. En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die Here sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.

26. En hulle het ’n groot hoop klippe op hom gestapel wat tot vandag toe daar is. Toe het die Here Hom afgewend van die gloed van sy toorn. Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor tot vandag toe.

Lees volledige hoofstuk Josua 7