Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 6:14-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. So het hulle dan op die tweede dag die stad een keer omgetrek; daarna het hulle in die laer teruggekom. So het hulle ses dae lank gedoen.

15. Maar op die sewende dag het hulle vroeg klaargemaak toe die rooidag uitkom, en die stad op dieselfde manier sewe maal omgetrek; net maar dié dag het hulle die stad sewe maal omgetrek.

16. En toe die priesters die sewende keer op die horings blaas, sê Josua vir die volk: Skreeu! want die Here gee die stad aan julle oor.

17. Maar die stad met al wat daarin is, moet ’n banoffer aan die Here wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het.

18. Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie.

19. Maar al die silwer en goud en die koper- en ystervoorwerpe is heilig aan die Here: dit moet by die skat van die Here kom.

20. Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk ’n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.

21. En alles wat in die stad was, het hulle deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref, man sowel as vrou, jonk sowel as oud, tot bees, skaap en esel toe.

22. En aan die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: Gaan in die huis van die hoer, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, soos julle vir haar gesweer het.

23. Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het uitgebring — al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly.

24. En die stad met alles wat daarin was, het hulle met vuur verbrand; net die silwer en die goud en die koper — en ystervoorwerpe het hulle by die skat van die huis van die Here gevoeg.

25. Maar Josua het Ragab, die hoer, laat lewe en haar familie en almal wat aan haar behoort het; sodat sy onder Israel gewoon het tot vandag toe, omdat sy die boodskappers weggesteek het wat Josua gestuur het om Jérigo te verken.

26. In dié tyd het Josua hulle laat sweer met die woorde: Vervloek is die man voor die aangesig van die Here wat sal opstaan om hierdie stad Jérigo op te bou: ten koste van sy eersgeborene sal hy sy fondamente lê, en ten koste van sy jongste sal hy sy poorte insit.

27. En die Here was met Josua, en die gerug van hom het deur die hele land gegaan.

Lees volledige hoofstuk Josua 6