Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 5:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN toe al die konings van die Amoriete wat anderkant die Jordaan na die weste was, en al die konings van die Kanaäniete wat by die see woon, hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die kinders van Israel uit laat opdroog het, totdat hulle deurgetrek het, het hulle hart versmelt en was daar in hulle geen moed meer vanweë die kinders van Israel nie.

2. IN dié tyd het die Here vir Josua gesê: Maak vir jou klipmesse en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer.

3. Toe het Josua vir hom klipmesse gemaak en die kinders van Israel besny by die heuwel van die voorhuide.

4. En dit is die rede dat Josua hulle besny het: Die hele volk wat uit Egipte uitgetrek het, die manspersone, al die krygsmanne, het op pad in die woestyn gesterwe, op hulle trek uit Egipte.

5. Want die hele volk wat uitgetrek het, was besnede; maar die hele volk wat op pad in die woestyn gebore is, op hulle trek uit Egipte, het hulle nie besny nie.

6. Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die Here gehoorsaam was nie; vir wie die Here gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die Here hulle vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee nie — ’n land wat oorloop van melk en heuning.

7. Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie.

8. En toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die laer gebly totdat hulle gesond was.

9. Toe het die Here vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe.

10. Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo.

Lees volledige hoofstuk Josua 5