Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 4:6-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. sodat dit ’n teken onder julle kan wees. As julle kinders later vra en sê: Wat beteken hierdie klippe vir julle?

7. moet julle vir hulle sê: omdat die water van die Jordaan afgekeer is voor die verbondsark van die Here by sy deurtog deur die Jordaan — die water van die Jordaan is afgekeer; daarom is hierdie klippe as ’n aandenking vir die kinders van Israel vir altyd.

8. Die kinders van Israel het toe so gedoen soos Josua beveel het: hulle het twaalf klippe uit die middel van die Jordaan opgetel soos die Here met Josua gespreek het, volgens die getal van die stamme van die kinders van Israel; en hulle het dit saam met hulle deurgebring na die slaapplek toe en dit daar neergesit.

9. Josua het ook twaalf klippe opgerig in die middel van die Jordaan, op die plek waar die voete van die priesters, die draers van die verbondsark, gestaan het; en dit is daar tot vandag toe.

10. En die priesters wat die ark gedra het, het bly staan in die middel van die Jordaan totdat alles volbring was wat die Here Josua beveel het om aan die volk te sê, volgens alles wat Moses Josua beveel het; en die volk het gou deurgetrek.

11. En toe die hele volk die deurtog voleindig het, het die ark van die Here met die priesters voor die oë van die volk deurgegaan.

12. En die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse het gewapend voor die kinders van Israel deurgetrek soos Moses aan hulle gesê het.

13. Omtrent veertigduisend wat vir oorlog gewapen was, het voor die aangesig van die Here deurgetrek om te veg, na die vlaktes van Jérigo toe.

14. Dié dag het die Here Josua groot gemaak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle hom gevrees het soos hulle Moses gevrees het al die dae van sy lewe.

15. En die Here het met Josua gespreek en gesê:

16. Gee bevel aan die priesters wat die ark van die Getuienis dra, dat hulle uit die Jordaan uit opklim.

17. Josua het daarop die priesters bevel gegee en gesê: Klim op uit die Jordaan.

18. En toe die priesters wat die verbondsark van die Here gedra het, opklim uit die middel van die Jordaan, het die priesters skaars hulle voetsole gelig en die droë grond bereik, of die water van die Jordaan het na sy plek teruggekeer en soos gister en eergister op al sy walle geloop.

19. En die volk het op die tiende van die eerste maand uit die Jordaan uit opgetrek en laer opgeslaan by Gilgal, aan die oostelike grens van Jérigo.

20. En daardie twaalf klippe wat hulle uit die Jordaan geneem het, het Josua by Gilgal opgerig.

Lees volledige hoofstuk Josua 4