Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 3:11-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.

12. Neem dan nou vir julle twaalf manne uit die stamme van Israel, een man uit elke stam;

13. en net soos die voetsole van die priesters wat die ark van die Here, die Here van die hele aarde, dra, in die water van die Jordaan rus, sal die water van die Jordaan afgekeer word — die water wat van die bokant afkom, en dit sal soos een wal bly staan.

14. En toe die volk wegtrek uit hulle tente om deur die Jordaan te gaan, met die priesters wat die verbondsark dra, op die voorpunt van die volk,

15. en net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, terwyl die Jordaan vol was op al sy walle al die dae van die oes,

16. bly die water staan wat van die bokant afkom: dit het opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê; en die wat afstroom na die See van die Vlakte, die Soutsee, het heeltemal verdwyn; toe het die volk deurgetrek, teenoor Jérigo.

17. Maar die priesters wat die verbondsark van die Here gedra het, het onbeweeglik bly staan op droë grond binne-in die Jordaan, terwyl die hele Israel op droë grond deurtrek, totdat die hele volk die deurtog deur die Jordaan voleindig het.

Lees volledige hoofstuk Josua 3