Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 3:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAAROP het Josua die môre vroeg klaargemaak, en hy met al die kinders van Israel het van Sittim af weggetrek en by die Jordaan aangekom en daar die nag oorgebly voordat hulle deurgetrek het.

2. En aan die einde van drie dae het die opsigters die laer deurgegaan

3. en aan die volk bevel gegee en gesê: Net soos julle die verbondsark van die Here julle God sien en die Levitiese priesters wat hom dra, moet julle van jul staanplek af opbreek en agter hom aan trek.

4. Maar laat daar ’n afstand van omtrent tweeduisend el tussen julle en hom wees; kom nie naby hom nie; sodat julle die pad kan weet waar julle langs moet trek; want gister en eergister het julle nie met dié pad getrek nie.

5. Verder het Josua aan die volk gesê: Heilig julle; want môre sal die Here wonders onder julle doen.

6. En Josua het met die priesters gespreek en gesê: Neem die verbondsark op en trek weg voor die volk uit; toe het hulle die verbondsark opgeneem en voor die volk uit getrek.

7. Daarop sê die Here vir Josua: Vandag sal Ek begin om jou groot te maak voor die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees soos Ek met Moses gewees het.

8. Gee jy dan bevel aan die priesters wat die verbondsark dra, en sê: Net soos julle aan die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan bly staan.

9. Toe sê Josua aan die kinders van Israel: Kom nader hierheen en luister na die woorde van die Here julle God.

10. Verder het Josua gesê: Hieraan sal julle erken dat daar ’n lewende God tussen julle is, en dat Hy sekerlik die Kanaäniete en Hetiete en Hewiete en Feresiete en Girgasiete en Amoriete en Jebusiete voor julle uit sal verdrywe:

11. Kyk, die verbondsark van die Here van die hele aarde trek voor julle uit die Jordaan in.

Lees volledige hoofstuk Josua 3