Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 22:3-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Julle het jul broers nie in die steek gelaat nie — dit is nou baie dae al tot vandag toe — en het die ordening van die gebod van die Here julle God onderhou.

4. Maar nou het die Here julle God jul broers rus gegee, soos Hy hulle beloof het; draai dan nou om en gaan na julle tente, na die land van julle besitting wat Moses, die kneg van die Here, julle oorkant die Jordaan gegee het.

5. Neem net noukeurig in ag die onderhouding van die gebod en die wet wat Moses, die kneg van die Here, julle beveel het, om die Here julle God lief te hê en in al sy weë te wandel en sy gebooie te onderhou en Hom aan te hang en Hom te dien met julle hele hart en met julle hele siel.

6. So het Josua hulle dan geseën en hulle laat gaan; en hulle het getrek na hul tente toe.

7. Maar aan die een helfte van die stam van Manasse het Moses in Basan ’n erfdeel gegee, en aan die ander helfte daarvan het Josua ’n deel gegee saam met hulle broers, duskant die Jordaan in die weste. En toe Josua hulle laat gaan het na hul tente, het hy hulle ook geseën

8. en met hulle gespreek en gesê: Gaan terug na julle tente met groot rykdomme en ’n menigte van vee, met silwer en goud en koper en yster en baie klere; deel die buit van julle vyande saam met julle broers.

9. So het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse dan teruggegaan, en hulle het weggetrek van die kinders van Israel af, uit Silo wat in die land Kanaän lê, om te gaan na die land Gílead, na die land van hulle besitting waarin hulle, op bevel van die Here deur die diens van Moses, vaste besittings verkry het.

10. Toe hulle kom by die klipkrale van die Jordaan, wat in die land Kanaän lê, het die kinders van Ruben en die kinders van Gad en die halwe stam van Manasse daar ’n altaar gebou by die Jordaan, ’n altaar groot van aansien.

Lees volledige hoofstuk Josua 22