Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:24-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

24. En toe hulle dié konings uitgebring het na Josua, roep Josua al die manne van Israel en sê aan die aanvoerders van die krygsmanne wat met hom saam getrek het: Kom nader, sit julle voete op die nekke van hierdie konings; en hulle het nader gekom en hul voete op hulle nekke gesit.

25. En Josua sê vir hulle: Wees nie bevrees of verskrik nie; wees sterk en vol moed, want so sal die Here met al julle vyande doen teen wie julle sal veg.

26. En daarna het Josua hulle neergeslaan en hulle gedood en hulle aan vyf pale opgehang; en hulle het aan die pale bly hang tot die aand toe.

27. En teen sonsondergang het Josua bevel gegee om hulle van die pale af te haal en in die spelonk te gooi waarin hulle weggekruip het; en hulle het groot klippe voor die ingang van die spelonk gepak, wat vandag nog daar is.

28. Daardie dag het Josua ook Makkéda ingeneem en dit met die skerpte van die swaard verslaan; en sy koning, die stad self en al die siele wat daarin was, het hy met die banvloek getref sonder iemand te laat oorbly wat vrygeraak het; en met die koning van Makkéda het hy gedoen net soos met die koning van Jérigo.

29. Toe trek Josua oor en die hele Israel met hom saam van Makkéda na Libna om met Libna oorlog te voer.

30. En die Here het dit ook met sy koning in die hand van Israel gegee, en hy het dit verslaan met die skerpte van die swaard en al die siele wat daarin was; hy het niemand daarin laat vryraak nie; en hy het met sy koning gedoen net soos met die koning van Jérigo.

31. Toe trek Josua oor en die hele Israel met hom saam van Libna na Lagis om dit te beleër en daarteen te veg.

32. En die Here het Lagis in die hand van Israel gegee, sodat hy dit ingeneem het op die tweede dag en dit met al die siele wat daarin was, met die skerpte van die swaard verslaan het net soos hy met Libna gedoen het.

Lees volledige hoofstuk Josua 10