Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2:4-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

4. Sy voorkoms is soos dié van perde, en net soos ryperde so hardloop hulle.

5. Soos die gedruis van waens huppel hulle oor die bergtoppe, soos die geknetter van ’n vuurvlam wat die kaf verteer, soos ’n magtige volk wat vir die geveg opgestel is.

6. Vir hom bewe die volke van angs, alle aangesigte verbleek.

7. Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie.

8. En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid.

9. Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ’n dief.

10. Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in.

11. En die Here verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?

12. Maar selfs nou nog, spreek die Here, bekeer julle tot My met julle hele hart, en met vas en geween en rouklag.

13. En skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil;

14. wie weet of dit Hom nie weer sal berou nie, sodat Hy ’n seën sal agterlaat — ’n spysoffer en ’n drankoffer aan die Here julle God.

15. Blaas die basuin op Sion, heilig ’n vasdag, roep ’n vergadering saam!

16. Versamel die volk, heilig die gemeente, vergader die oudstes, versamel die kinders en die suiglinge! Laat die bruidegom uit sy kamer uitgaan en die bruid uit haar slaapvertrek.

17. Laat die priesters, die dienaars van die Here, tussen die voorportaal en die altaar ween en sê: o Here, spaar u volk, en gee u erfdeel nie oor aan smaadheid, dat die nasies met hulle spot nie; waarom sou hulle onder die volke sê: Waar is hulle God?

18. TOE het die Here geywer vir sy land en sy volk verskoon.

19. En die Here het geantwoord en aan sy volk gesê: Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word, en Ek maak julle nie meer tot ’n voorwerp van smaad onder die nasies nie.

Lees volledige hoofstuk Joël 2