Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 59:3-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.

4. Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ’n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.

5. Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar ’n adder uit.

6. Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande.

7. Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie.

8. Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.

9. Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ’n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid.

10. Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense.

11. Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil — dit bly ver van ons.

12. Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle:

13. die afval en verloëning van die Here en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 59