Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 5:6-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En Ek sal dit ’n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.

7. Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!

8. Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is.

9. In my ore het die Here van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal ’n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner.

10. Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en ’n homer saad sal ’n efa opbring.

11. Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.

12. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die Here gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.

13. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.

14. Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is.

15. Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.

16. Maar hoog sal die Here van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.

17. En daar sal lammers wei soos op hulle eie weiveld, en rondtrekkers sal die puinhope van die ryk mense laat afeet.

18. Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue;

19. wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken!

20. Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.

21. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 5