Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 5:10-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en ’n homer saad sal ’n efa opbring.

11. Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.

12. En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die Here gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.

13. Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.

14. Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is.

15. Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.

16. Maar hoog sal die Here van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.

17. En daar sal lammers wei soos op hulle eie weiveld, en rondtrekkers sal die puinhope van die ryk mense laat afeet.

18. Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue;

19. wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken!

20. Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.

21. Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.

22. Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng;

23. wat vir ’n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem.

24. Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die Here van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.

25. Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen sy volk en het Hy sy hand teen hulle uitgestrek en hulle swaar getref, sodat die berge gebeef het en hulle lyke soos vuilnis op die strate was. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar is sy hand nog uitgestrek.

26. En Hy sal ’n banier ophef vir die nasies in die verte, en Hy fluit vir dié volk daar aan die einde van die aarde; en kyk, gou, haastig kom hulle.

27. Geen vermoeide en geen struikelende is onder hulle nie; hulle sluimer of slaap nie, en die gord van hulle heupe word nie losgemaak nie, en die riem van hulle skoene breek nie;

28. wie se pyle skerp is en al hulle boë gespan; die pote van hulle perde is soos ’n klipsteen en hulle wiele soos ’n stormwind.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 5