Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 5:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. LAAT my tog sing van my Beminde; ’n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het ’n wingerd op ’n vrugbare heuwel.

2. En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ’n toring daar binne-in gebou en ook ’n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.

3. Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd.

4. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?

5. Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word.

6. En Ek sal dit ’n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.

7. Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!

8. Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is.

9. In my ore het die Here van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal ’n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner.

10. Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en ’n homer saad sal ’n efa opbring.

11. Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 5