Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 36:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.

2. Toe stuur die koning van Assirië die rábsake uit Lagis na Jerusalem, na koning Hiskía met ’n swaar leër; en hy het gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld.

3. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, na hom toe uit.

4. En die rábsake sê vir hulle: Sê tog aan Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië: Wat is dit vir ’n vertroue wat jy koester?

5. Jy dink: Net ’n woord van die lippe is raad en dapperheid vir die oorlog. Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom?

6. Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.

7. Maar as jy vir my sê: Ons vertrou op die Here onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar moet julle buig?

8. Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou tweeduisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.

9. Hoe sal jy dan die aanval van ’n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars kan afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!

10. Het ek dan nou sonder die Here teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Die Here het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.

11. Toe sê Éljakim en Sebna en Joa vir die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.

12. Maar die rábsake het gesê: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?

Lees volledige hoofstuk Jesaja 36