Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 30:3-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

3. Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in die skaduwee van Egipte tot smaadheid.

4. Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom;

5. almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie, geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby.

6. Godspraak oor die diere van die Suidland. In ’n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na ’n volk wat geen voordeel bring nie.

7. En Egipte — nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit.

8. Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.

9. Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die Here nie wil hoor nie;

10. wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;

11. wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn!

Lees volledige hoofstuk Jesaja 30