Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 30:16-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag!

17. Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos ’n vlagpaal op ’n bergtop en soos ’n banier op ’n heuwel.

18. En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!

19. Want ’n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou.

20. Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien;

21. en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.

22. En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.

23. Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op ’n uitgestrekte weiveld;

24. en die osse en die esels wat die grond bewerk, sal voer met sout eet, wat uitgewan is met skop en gaffel;

25. en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op die dag van die groot slagting as die torings val.

26. En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.

27. KYK, die Naam van die Here kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos ’n verterende vuur,

28. en sy asem soos ’n oorlopende stroom wat tot by die nek kom — om nasies te sif met ’n sif van vernietiging; en ’n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene van die volke.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 30