Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 28:1-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WEE die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is.

2. Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos ’n haelstorm, ’n storm vol verwoesting, soos ’n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag.

3. Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim;

4. en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos ’n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg.

5. In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot ’n sierlike kroon en ’n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk,

6. en tot ’n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot ’n sterkte vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe.

7. En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak.

8. Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 28