Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 9:2-19 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. Ag, het ek in die woestyn maar ’n herberg vir reisigers gehad! Dan sou ek my volk verlaat en van hulle af wegtrek; want hulle is almal owerspelers, ’n hoop ontroue mense.

3. En hulle span hulle tong, soos hulle boog, met leuens, en nie volgens waarheid is hulle magtig in die land nie; want van boosheid tot boosheid gaan hulle voort, maar My ken hulle nie, spreek die Here.

4. Pas op, elkeen vir sy vriend, en vertrou op geen broer nie; want elke broer is net ’n onderkruiper, en elke vriend gaan om met kwaadsprekery.

5. En hulle bedrieg elkeen sy vriend en praat nie die waarheid nie; hulle het hul tong geleer om leuens te praat, hulle maak hul moeg met verdraaiery.

6. Jou woning is in die midde van bedrog; deur bedrog weier hulle om My te ken, spreek die Here.

7. Daarom, so sê die Here van die leërskare: Kyk, Ek smelt hulle en toets hulle; want hoe sou Ek anders handel vanweë die dogter van my volk?

8. Hulle tong is ’n moordpyl; dit spreek bedrog; met die mond spreek hulle van vrede met hul naaste, maar in hul binneste beraam hulle listige planne.

9. Sou Ek hieroor aan hulle geen besoeking doen nie? spreek die Here. Of sou my siel hom nie wreek op ’n nasie soos hierdie een nie?

10. Ek sal geween en geklaag aanhef oor die berge en ’n klaaglied oor die weivelde van die woestyn; want hulle is verwoes, sodat niemand daar deurtrek nie, en ’n mens hoor geen geluid van vee nie; die voëls van die hemel sowel as die diere — hulle het gevlug, weggetrek.

11. En Ek sal Jerusalem maak tot kliphope, ’n lêplek van jakkalse; en die stede van Juda sal Ek ’n woesteny maak, sonder inwoner.

12. Wie is die wyse man wat dit kan verstaan? En met wie het die mond van die Here gespreek, dat hy dit kan verkondig? Waarom het die land te gronde gegaan, is dit verwoes soos die woestyn, sodat niemand daar deurtrek nie?

13. En die Here het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie,

14. maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het,

15. daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek gee aan hulle, aan hierdie volk, wildeals om te eet, en Ek laat hulle gifwater drink,

16. en Ek verstrooi hulle onder die nasies wat hulle en hul vaders nie geken het nie, en stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het.

17. So sê die Here van die leërskare: Let op, en roep die klaagvroue, dat hulle kom; en stuur na die wyse vroue, dat hulle kom;

18. en laat hulle gou maak en oor ons ’n weeklag aanhef, sodat ons oë afloop in trane en ons ooglede stroom van water.

19. Want die geluid van weeklag word uit Sion gehoor: Hoe is ons verwoes! Ons het diep in die skande gekom, omdat ons die land moet verlaat, omdat hulle ons wonings omgegooi het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 9