Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 9:11-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. En Ek sal Jerusalem maak tot kliphope, ’n lêplek van jakkalse; en die stede van Juda sal Ek ’n woesteny maak, sonder inwoner.

12. Wie is die wyse man wat dit kan verstaan? En met wie het die mond van die Here gespreek, dat hy dit kan verkondig? Waarom het die land te gronde gegaan, is dit verwoes soos die woestyn, sodat niemand daar deurtrek nie?

13. En die Here het gesê: Omdat hulle my wet wat Ek hulle voorgehou het, verlaat het en na my stem nie geluister en daarin nie gewandel het nie,

14. maar gewandel het agter die verhardheid van hulle hart en agter die Baäls aan, waaraan hulle vaders hulle gewend gemaak het,

15. daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek gee aan hulle, aan hierdie volk, wildeals om te eet, en Ek laat hulle gifwater drink,

16. en Ek verstrooi hulle onder die nasies wat hulle en hul vaders nie geken het nie, en stuur die swaard agter hulle aan totdat Ek hulle verteer het.

17. So sê die Here van die leërskare: Let op, en roep die klaagvroue, dat hulle kom; en stuur na die wyse vroue, dat hulle kom;

18. en laat hulle gou maak en oor ons ’n weeklag aanhef, sodat ons oë afloop in trane en ons ooglede stroom van water.

19. Want die geluid van weeklag word uit Sion gehoor: Hoe is ons verwoes! Ons het diep in die skande gekom, omdat ons die land moet verlaat, omdat hulle ons wonings omgegooi het.

20. Want hoor, o vroue, die woord van die Here, en laat julle oor opvang die woord van sy mond; en leer julle dogters ’n weeklag en vir mekaar ’n klaaglied.

21. Want die dood het in ons vensters opgeklim, in ons paleise ingekom om die kinders van die straat af uit te roei, die jongmanne van die pleine af.

22. Sê dit: So spreek die Here: En die lyke van die mense sal neerval soos mis op die oop veld en soos gerwe agter die maaier sonder dat iemand dit versamel.

23. So sê die Here: Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie;

24. maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek die Here is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen; want in dié dinge het Ek ’n behae, spreek die Here.

25. Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is:

Lees volledige hoofstuk Jeremia 9