Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 8:10-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. Daarom sal Ek hulle vroue aan ander gee, hulle landerye aan veroweraars; want van die kleinste tot die grootste maak hulle almal onregverdige wins; van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog.

11. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede! — terwyl daar geen vrede is nie.

12. Hulle kom in die skande, omdat hulle gruwel bedryf het, tog skaam hulle hul nie in die minste nie en weet nie om te bloos nie. Daarom sal hulle val onder die wat val; en die tyd van hulle besoeking sal hulle struikel, sê die Here.

13. Saamskraap, wegraap sal Ek hulle, spreek die Here. Daar is geen druiwe aan die wingerdstok en geen vye aan die vyeboom nie, ja, die blare verdor. So het Ek ook vir hulle dié bestel wat dwarsoor hulle sal gaan.

14. Waarom bly ons sit? Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan en daar omkom; want die Here onse God laat ons omkom, en Hy laat ons gifwater drink, omdat ons teen die Here gesondig het.

15. Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ’n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking.

16. Van Dan af word die gesnuif van sy perde gehoor, vir die geluid van die gerunnik van sy perde bewe die hele land; en hulle kom en eet die land op en sy volheid, die stad en die wat daarin woon.

17. Want kyk, Ek stuur slange, basiliske onder julle waarteen daar geen beswering is nie, en hulle sal julle byt, spreek die Here.

18. Ag, kon ek my maar opvrolik in kommer! My hart is krank in my.

19. Daar is die hulpgeroep van die dogter van my volk uit ’n baie ver land: Is die Here nie in Sion nie? Of is sy Koning nie daarin nie? Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?

20. Die oes is verby, die somer is ten einde, en óns is nie verlos nie!

21. Vanweë die verbreking van die dogter van my volk is ek gebreek, is ek in die rou; verbaasdheid het my aangegryp.

22. Is daar geen balsem in Gílead nie? Of is daar geen geneesheer nie? Want waarom het die genesing van die dogter van my volk nie tot stand gekom nie?

Lees volledige hoofstuk Jeremia 8