Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 6:17-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. Ek het ook wagte oor julle gestel en gesê: Luister na die geluid van die basuin. Maar hulle het geantwoord: Ons wil nie luister nie.

18. Daarom, hoor, o nasies! En weet, o vergadering, wat onder hulle is!

19. Hoor, aarde! Kyk, Ek bring onheil oor hierdie volk, die vrug van hulle planne; want na my woorde het hulle nie geluister nie, en my wet, dié het hulle verwerp.

20. Waarom sou daar tog vir My wierook uit Skeba kom en die kosbare kalmoes uit ’n ver land? Julle brandoffers is nie welgevallig nie, en julle slagoffers is My nie aangenaam nie.

21. Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek gooi struikelblokke voor hierdie volk waaroor hulle sal struikel, vaders en seuns tesame; die buurman en sy vriend sal omkom.

22. So sê die Here: Kyk, daar kom ’n volk uit die Noordland, en ’n groot nasie word opgewek uit die agterhoeke van die aarde.

23. Boog en lans hanteer hulle; hulle is wreed en sonder barmhartigheid; hulle stem bruis soos die see, en hulle ry op perde, gewapend soos ’n man vir die oorlog, teen jou, o dogter van Sion!

24. Ons het die gerug daarvan gehoor, ons hande het slap geword, benoudheid het ons aangegryp, smart soos van een wat baar.

25. Gaan nie uit in die veld en loop nie op die pad nie; want die swaard van die vyand is daar, skrik rondom!

26. Dogter van my volk, omgord jou met ’n roukleed en wentel jou in die as; bedryf rou soos oor ’n enigste kind, ’n bitter rouklag; want skielik kom die verwoester oor ons.

27. Ek het jou onder my volk as toetser gestel, as vesting, dat jy hulle weg kan ken en toets.

28. Hulle is almal die oproerigstes van die oproeriges wat omgaan met kwaadsprekery; koper en yster is hulle; hulle handel almal verderflik.

29. Die blaasbalk blaas hard; wat uit die vuur gereed kom, is lood; tevergeefs hou hulle aan met smelt, maar die slegtes word nie afgeskei nie.

30. Hulle word genoem: Verworpe silwer; want die Here het hulle verwerp.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 6