Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:44-57 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

44. En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.

45. Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die Here!

46. En laat julle hart nie week wees, sodat julle bevrees word by die tyding wat in die land gehoor word nie, as daar ’n tyding kom in die een jaar, en daarna ’n tyding in die ander jaar, en daar geweld is in die land, heerser teen heerser.

47. Daarom, kyk, daar kom dae dat Ek besoeking sal doen oor die gesnede beelde van Babel; en sy hele land sal beskaamd staan, en al sy gesneuweldes sal daarin val.

48. Dan sal oor Babel juig hemel en aarde en alles wat daarin is; want uit die noorde kom die verwoesters oor hom, spreek die Here.

49. Ook Babel moet val, o gesneuweldes van Israel, soos ook vir Babel geval het die gesneuweldes van die hele aarde.

50. Vrygeraaktes van die swaard, gaan weg, bly nie staan nie, dink aan die Here uit die verte, en laat Jerusalem in julle hart opkom!

51. Ons staan beskaamd, want ons het smaadwoorde gehoor, skande het ons aangesig bedek; want vreemdes het gekom oor die heiligdomme van die huis van die Here.

52. Daarom kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek besoeking sal doen oor sy gesnede beelde; en die gewondes sal kerm in sy hele land.

53. Al sou Babel in die hemel opklim, en al sou hy die hoogte van sy vesting versterk — van My af sal verwoesters oor hom kom, spreek die Here.

54. Hoor! Geskreeu uit Babel en groot verbreking uit die land van die Chaldeërs;

55. want die Here verwoes Babel en sal uit hom die groot geraas laat verdwyn; en hulle golwe sal bruis soos groot waters, die gedruis van hulle geluid sal weergalm.

56. Want ’n verwoester oorval hom, oorval Babel, en sy helde word gevang, hulle boë word stukkend gebreek; want ’n God van vergelding is die Here; Hy sal gewis vergelde.

57. En Ek sal sy vorste en sy wyse manne, sy goewerneurs en sy owerstes en sy helde dronk maak; en hulle sal slaap ’n ewige slaap en nie wakker word nie, spreek die Koning wie se Naam is Here van die leërskare.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51