Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:32-45 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

32. en dat die driwwe beset is, en hulle die rietvleie met vuur verbrand het, en die krygsmanne verskrik is.

33. Want so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Die dogter van Babel is soos ’n dorsvloer in die tyd as dit vasgetrap word; nog ’n kort rukkie, dan kom die oestyd vir hom.

34. Nebukadrésar, die koning van Babel, het my opgeëet, my vernietig; hy het my neergesit soos ’n leë skottel; hy het my verslind soos ’n draak; hy het sy buik met my lekkernye gevul; hy het my weggestoot.

35. Laat die inwoners van Sion sê: Die geweld en die verminking wat my aangedoen is, is op Babel! En laat Jerusalem sê: My bloed is op die inwoners van Chaldéa!

36. Daarom, so sê die Here: Kyk, Ek verdedig jou saak en sal vir jou wraak neem; en Ek sal sy see droogmaak en sy fontein laat opdroë.

37. En Babel sal kliphope word, ’n lêplek van jakkalse, ’n voorwerp van verbasing en bespotting, sonder inwoner.

38. Almal saam brul hulle soos jong leeus, brom soos klein leeutjies.

39. As hulle verhit is, berei Ek hulle maaltyd en maak hulle dronk, sodat hulle uitgelate word en ’n ewige slaap kan slaap en nie wakker word nie, spreek die Here.

40. Ek sal hulle afbring soos lammers om geslag te word, soos ramme saam met bokke.

41. Hoe is Sesag ingeneem en die roem van die hele aarde verower! Hoe het Babel ’n voorwerp van verbasing geword onder die nasies!

42. Die see het oor Babel opgerys, deur die gebruis van sy golwe is hy oordek.

43. Sy stede het ’n woesteny geword, ’n dor land en ’n wildernis; ’n land waar niemand in woon nie, en waar geen mensekind deurtrek nie.

44. En Ek sal besoeking doen oor Bel in Babel en uit sy mond uithaal wat hy verslind het; en geen nasies sal meer na hom toestroom nie. Ook val die muur van Babel.

45. Gaan uit hom uit, my volk, en red elkeen sy lewe van die toorngloed van die Here!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51