Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 50:7-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Almal wat hulle kry, het hulle opgeëet; en hulle teëstanders het gesê: Ons maak ons nie skuldig nie, omdat hulle gesondig het teen die Here, die Woning van geregtigheid en die Verwagting van hulle vaders, die Here.

8. Vlug uit Babel, en gaan uit die land van die Chaldeërs, en wees soos bokke voor die trop kleinvee uit!

9. Want kyk, Ek verwek en laat teen Babel optrek ’n menigte van groot nasies uit die Noordland; dié sal hulle teen hom opstel — daarvandaan sal hy ingeneem word; hulle pyle sal wees soos dié van ’n voorspoedige held wat nie met leë hande terugkom nie.

10. En Chaldéa sal ’n buit word; almal wat hom beroof, sal versadig word; spreek die Here.

11. Al is julle verheug, al jubel julle, plunderaars van my erfenis, al huppel julle soos ’n vers wat graan dors, en runnik julle soos die hingste —

12. julle moeder staan grootliks beskaamd; sy wat julle gebaar het, is rooi van skaamte. Kyk, sy is die agterste van die nasies, ’n woestyn, ’n dor land en ’n wildernis.

13. Weens die toorn van die Here sal dit nie bewoon word nie, maar geheel en al ’n wildernis wees; elkeen wat by Babel verbygaan, sal verbaas wees en spot oor al sy plae.

14. Stel julle op teen Babel rondom, julle almal wat die boog span! Beskiet hom, spaar die pyle nie! Want hy het teen die Here gesondig.

15. Juig oor hom rondom — hy het hom oorgegee, sy pilare het geval, sy mure is afgebreek; want dit is die wraak van die Here; wreek julle op hom, doen aan hom soos hy gedoen het!

16. Roei uit Babel uit die saaier en die wat die sekel hanteer in die oestyd; laat hulle vanweë die verdrukkende swaard elkeen na sy volk omdraai en elkeen na sy land vlug!

17. Israel is ’n rondgejaagde skaap wat die leeus weggedrywe het; eers het die koning van Assur hom opgeëet, en nou ten laaste het Nebukadrésar, die koning van Babel, sy gebeente afgeknaag.

18. Daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek doen besoeking oor die koning van Babel en oor sy land, soos Ek besoeking gedoen het oor die koning van Assur.

19. En Ek sal Israel na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Basan; en sy siel sal op die gebergte van Efraim en in Gílead versadig word.

20. In dié dae en in dié tyd, spreek die Here, sal die ongeregtigheid van Israel gesoek word, maar dit sal daar nie wees nie; en die sondes van Juda, maar hulle sal nie gevind word nie; want Ek sal vergifnis skenk aan diegene wat Ek laat oorbly.

21. Teen die land Meratáim, trek daarteen op en teen die inwoners van Pekod! Verwoes en tref met die banvloek agter hulle, spreek die Here, en doen net soos Ek jou beveel het.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 50