Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 5:11-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want die huis van Israel en die huis van Juda het baie troueloos teen My gehandel, spreek die Here.

12. Hulle het die Here verloën en gesê: Dit is nie Hy nie; en geen onheil sal oor ons kom nie; ons sal geen swaard of hongersnood sien nie;

13. en die profete sal wind word; ja, die Woord is nie by hulle nie; mag dit so met húlle gaan!

14. Daarom, so sê die Here, die God van die leërskare: Omdat julle hierdie woord spreek, kyk, Ek maak my woorde in jou mond ’n vuur en hierdie volk hout, en dit sal hulle verteer.

15. Kyk, Ek bring oor julle ’n nasie van ver af, o huis van Israel, spreek die Here; ’n eeue-oue nasie is dit, ’n nasie van ouds af, ’n nasie waarvan jy die taal nie ken en jy nie verstaan wat hulle praat nie.

16. Hulle pylkoker is soos ’n geopende graf; hulle is almal helde.

17. En hulle sal jou oes en jou brood opeet, hulle sal jou seuns en jou dogters opeet, hulle sal jou kleinvee en jou beeste opeet, hulle sal jou wingerdstok en jou vyeboom opeet, hulle sal jou versterkte stede waar jy op vertrou, met die swaard verwoes.

18. Nogtans sal Ek ook in dié dae, spreek die Here, nie ’n einde aan julle maak nie.

19. En as julle sê: Waarvoor het die Here onse God ons al hierdie dinge aangedoen? antwoord hulle dan: Soos julle My verlaat het en vreemde gode in julle land gedien het, so sal julle vreemdes dien in ’n land wat julle s’n nie is nie.

20. Verkondig dit in die huis van Jakob, en laat dit hoor in Juda en sê:

21. Hoor dit tog, o dwase en verstandelose volk, wat oë het, maar nie sien nie; wat ore het, maar nie hoor nie!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 5