Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 40:9-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. En Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, het vir hulle en hulle manskappe gesweer en gesê: Wees nie bevrees om die Chaldeërs te dien nie; bly in die land en dien die koning van Babel; dan sal dit goed met julle gaan.

10. En ek self, kyk, ek woon in Mispa om voor die Chaldeërs te staan wat na ons sal kom. Samel julle dan wyn en somervrugte en olie in en gooi dit in julle bakke, en woon in julle stede wat julle in besit kan neem.

11. En ook al die Jode wat in Moab en onder die kinders van Ammon en in Edom en wat in al die lande was, het gehoor dat die koning van Babel vir Juda ’n oorblyfsel nagelaat het; en dat hy Gedálja, die seun van Ahíkam, die seun van Safan, oor hulle aangestel het;

12. daarom het al die Jode teruggekom uit al die plekke waarheen hulle verdryf was, en in die land Juda na Gedálja gekom, in Mispa; en hulle het groot hoeveelhede wyn en somervrugte ingesamel.

13. Maar Jóhanan, die seun van Karéag, en al die owerstes van die leërs wat in die veld was, het na Gedálja gekom in Mispa

14. en vir hom gesê: Weet u wel dat Báälis, die koning van die kinders van Ammon, Ismael, die seun van Netánja, gestuur het om u dood te slaan? Maar Gedálja, die seun van Ahíkam, het hulle nie geglo nie.

15. Toe het Jóhanan, die seun van Karéag, in die geheim met Gedálja in Mispa gespreek en gesê: Laat my tog gaan en Ismael, die seun van Netánja, verslaan sonder dat iemand dit weet. Waarom sou hy u doodslaan en die hele Juda wat by u versamel is, verstrooi word en die oorblyfsel van Juda tot niet gaan?

16. Maar Gedálja, die seun van Ahíkam, het vir Jóhanan, die seun van Karéag gesê: Doen hierdie ding nie, want jy spreek onwaarheid van Ismael.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 40