Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 4:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. AS jy jou bekeer, Israel, spreek die Here, bekeer jou tot My; en as jy jou verfoeisels van my aangesig af verwyder, hoef jy nie rond te swerwe nie.

2. Dan sal jy sweer: So waar as die Here leef! in waarheid, in reg en in geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën en hulle in Hom beroem.

3. Want so sê die Here aan die manne van Juda en aan Jerusalem: Braak vir julle ’n braakland en saai nie onder die dorings nie.

4. Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos ’n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.

5. VERKONDIG in Juda en laat dit hoor in Jerusalem en sê: Blaas die basuin in die land! Roep hardop en sê: Kom bymekaar, en laat ons in die versterkte stede ingaan!

6. Steek óp die banier na Sion toe! Vlug, bly nie staan nie! Want Ek bring ’n onheil uit die Noorde en ’n groot verwoesting.

7. ’n Leeu het opgekom uit sy bos en ’n verderwer van nasies het weggetrek, uitgegaan uit sy plek om jou land ’n woesteny te maak; jou stede sal verwoes word, sonder inwoners.

8. Daarom, omgord julle met rouklere, klaag en huil, want die toorngloed van die Here teen ons het nie bedaar nie.

9. En op dié dag, spreek die Here, sal die moed van die koning en die moed van die vorste vergaan, en die priesters sal verskrik wees en die profete verstom staan.

10. Toe het ek gesê: Ag, Here Here, waarlik, U het hierdie volk en Jerusalem grootliks mislei met die woorde: Julle sal vrede hê — terwyl die swaard tot aan die siel raak.

11. In dié tyd sal aan hierdie volk en aan Jerusalem gesê word: ’n Gloeiende wind van die kaal heuwels in die woestyn op pad na die dogter van my volk, nie om te wan of te suiwer nie!

Lees volledige hoofstuk Jeremia 4