Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 36:23-32 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. En elke keer het hy, as Jehúdi drie of vier kolomme gelees het, dit met die mes van ’n skrywer stukkend gesny en in die vuur gegooi wat op die vuurpan was, totdat die hele rol in die vuur op die vuurpan verteer was.

24. En hulle was nie verskrik nie en het hulle klere nie geskeur nie — die koning en al sy dienaars wat al hierdie woorde gehoor het;

25. alhoewel selfs Élnatan en Delája en Gemárja by die koning daarop aangedring het om die rol nie te verbrand nie; maar hy het na hulle nie geluister nie.

26. Toe gee die koning bevel aan Jerágmeël, die seun van die koning, en Serája, die seun van Ásriël, en Selémja, die seun van Ábdeël, om die skrywer Barug en die profeet Jeremia te vang. Maar die Here het hulle verberg.

27. Toe kom die woord van die Here tot Jeremia — nadat die koning die rol verbrand het met die woorde wat Barug uit die mond van Jeremia opgeskrywe het — en sê:

28. Neem vir jou weer ’n ander rol en skrywe daarop al die vorige woorde wat op die eerste rol was, wat Jójakim, die koning van Juda, verbrand het.

29. En aangaande Jójakim, die koning van Juda, moet jy sê: So spreek die Here: Jý het hierdie rol verbrand met die woorde: Waarom het jy daarop geskrywe en gesê: Die koning van Babel sal sekerlik kom en hierdie land verwoes en mens en dier daar uitroei?

30. Daarom, so spreek die Here aangaande Jójakim, die koning van Juda: Hy sal nooit een hê wat op die troon van Dawid sit nie, en sy lyk sal weggegooi lê, bedags in die hitte en snags in die koue.

31. En Ek sal aan hom en sy geslag en sy dienaars hulle ongeregtigheid besoek; en Ek sal oor hulle en die inwoners van Jerusalem en die manne van Juda al die onheil bring wat Ek teen hulle gespreek het sonder dat hulle geluister het.

32. Toe het Jeremia ’n ander rol geneem en dit aan die skrywer Barug, die seun van Nería, gegee; en hy het daarop uit die mond van Jeremia geskrywe al die woorde van die boek wat Jójakim, die koning van Juda, met vuur verbrand het; en nog baie dergelike woorde is daaraan toegevoeg.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 36