Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:7-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Want so sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel!

8. Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde; blindes en lammes, swangeres en barendes onder hulle, almal saam; in ’n groot vergadering sal hulle terugkom hiernatoe.

9. Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op ’n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel ’n Vader, en Efraim is my eersgeborene.

10. Hoor die woord van die Here, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ’n herder sy kudde.

11. Want die Here het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy.

12. En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie.

13. Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31