Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:23-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

23. So sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Weer sal hulle hierdie woord sê in die land Juda en in die stede daarvan, as Ek hulle lot verander: Mag die Here jou seën, o woning van geregtigheid, heilige berg!

24. En Juda en al sy stede sal daarin woon, almal saam; die landbouers en die wat met troppe vee rondtrek.

25. Want Ek verkwik die vermoeide siel en elke kwynende siel versadig Ek.

26. (Hierop het ek wakker geword en opgekyk, en my slaap was vir my soet.)

27. Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die huis van Israel en die huis van Juda sal besaai met saad van mense en van diere.

28. En soos Ek oor hulle wakker was om uit te ruk en om te gooi en te verwoes en te vernietig en skade aan te doen, so sal Ek oor hulle wakker wees om te bou en te plant, spreek die Here.

29. In dié dae sal hulle nie meer sê nie: Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.

30. Maar elkeen sal weens sy eie ongeregtigheid sterwe; elke mens wat die groen druiwe eet, sy tande sal stomp word.

31. Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit;

32. nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here.

33. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.

34. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.

35. So sê die Here wat die son gee tot ’n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ’n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, Here van die leërskare is sy Naam:

36. As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die Here, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ’n volk te wees voor my aangesig vir altyd.

37. So sê die Here: As die hemele daarbo gemeet en die fondamente van die aarde daaronder nagespeur kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Israel verwerp weens alles wat hulle gedoen het, spreek die Here.

38. Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat die stad vir die Here herbou sal word, van die toring Hanáneël af tot by die Hoekpoort.

39. En die meetsnoer sal verder reguit aanloop tot by die heuwel Gareb en swaai na Goa toe.

40. En die hele dal van die lyke en van die as, en al die velde tot by die spruit Kidron, tot by die hoek van die Perdepoort teen die ooste, sal aan die Here heilig wees; dit sal nie weer uitgeruk of verwoes word in ewigheid nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31