Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:1-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. IN dié tyd, spreek die Here, sal Ek vir al die geslagte van Israel ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.

2. So sê die Here: Die volk van diegene wat van die swaard vrygeraak het, het genade gevind in die woestyn, op weg om sy rus te geniet, naamlik Israel.

3. Die Here het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.

4. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers.

5. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet.

6. Want die dag is daar dat die oppassers op die berge van Efraim roep: Maak julle klaar en laat ons optrek na Sion, na die Here onse God.

7. Want so sê die Here: Jubel oor Jakob van vreugde, en juig oor die hoof van die nasies; laat dit hoor, sing lof en sê: o Here, verlos u volk, die oorblyfsel van Israel!

8. Kyk, Ek bring hulle aan uit die Noordland en sal hulle bymekaar laat kom uit die agterhoeke van die aarde; blindes en lammes, swangeres en barendes onder hulle, almal saam; in ’n groot vergadering sal hulle terugkom hiernatoe.

9. Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op ’n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel ’n Vader, en Efraim is my eersgeborene.

10. Hoor die woord van die Here, o nasies, en verkondig in die kuslande wat ver is, en sê: Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ’n herder sy kudde.

11. Want die Here het Jakob losgekoop en hom verlos uit die hand van hom wat sterker was as hy.

12. En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie.

13. Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer.

14. En Ek sal die siel van die priesters verkwik met vettigheid, en my volk sal versadig word met my seëninge, spreek die Here.

15. So sê die Here: ’n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.

16. So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31