Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 30:2-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. So spreek die Here, die God van Israel: Skryf vir jou in ’n boek al die woorde wat Ek met jou gespreek het;

3. want kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander, sê die Here; en Ek sal hulle terugbring in die land wat Ek aan hulle vaders gegee het, en hulle sal dit in besit neem.

4. En dit is die woorde wat die Here gespreek het oor Israel en Juda:

5. Want so sê die Here: Ons het ’n stem van verskrikking gehoor; daar is vrees en geen vrede nie!

6. Vra tog, en kyk of ’n manspersoon baar? Waarom sien ek elke man met sy hande op sy heupe soos een wat baar, en is alle aangesigte in bleekheid verander?

7. Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.

8. En op dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek sy juk verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie.

9. Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek.

10. Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die Here; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak.

11. Want Ek is met jou, spreek die Here, om jou te verlos. Want Ek sal ’n einde maak aan al die nasies waarheen Ek jou verstrooi het; maar aan jou sal Ek geen einde maak nie, maar Ek sal jou tugtig met mate, al sal Ek jou sekerlik nie ongestraf laat bly nie.

12. Want so sê die Here: Jou verbreking is ongeneeslik, jou wond is smartlik.

13. Niemand verskaf reg aan jou nie; daar is geen medisyne vir die sweer, geen genesing vir jou nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 30