Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 3:6-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. EN die Here het vir my gesê in die dae van koning Josía: Het jy gesien wat die afkerige, Israel, gedoen het? Sy het op elke hoë berg en tot onder elke groen boom gegaan en daar gehoereer.

7. En Ek het gesê, nadat sy dit alles gedoen het: Keer na My terug! Maar sy het nie teruggekeer nie. En dit het die ontroue, haar suster Juda, gesien.

8. En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.

9. En vanweë haar ligsinnige hoerery het sy die land ontheilig, ja, sy het owerspel bedrywe met klip en hout.

10. Maar ook ondanks dit alles het die ontroue, haar suster Juda, haar nie met haar hele hart tot My bekeer nie, maar valslik, spreek die Here.

11. Toe het die Here vir my gesê: Die afkerige, Israel, het haar siel geregverdig meer as die ontroue, Juda.

12. Gaan en roep hierdie woorde na die noorde toe uit en sê: Keer terug, o afkerige, Israel, spreek die Here. Ek sal julle nie donker aankyk nie, want Ek is goedertieren, spreek die Here; Ek sal die toorn nie vir ewig behou nie.

13. Alleenlik, ken jou ongeregtigheid, dat jy teen die Here jou God oortree het en jou weë gerig het na die vreemdes, onder elke groen boom; maar na my stem het julle nie geluister nie, spreek die Here.

14. Keer terug, o afkerige kinders, spreek die Here, want Ek is heer oor julle; en Ek sal julle neem, een uit ’n stad en twee uit ’n geslag en sal julle in Sion bring.

15. En Ek sal aan julle gee herders na my hart, wat julle sal oppas met kennis en verstand.

16. En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die Here, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die Here nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 3